Cape Town's best mix
of the 80's, 90's and now
Now Playing: RYTHME FATAL FEATURING REDD ANGEL - MAN IN THE MIRROR
Now Playing:
RYTHME FATAL FEATURING REDD ANGEL - MAN IN THE MIRROR

SGNN GoodNews

Neels foto's 5.jpg

CLICKETY-CLICK. BABA-TRICK!

Die Wes-Kaap spog met die eerste manlike fotograaf wat in Suid Afrika geregistreer is om baba-geboortes af te neem.

Die fotografie-gogga het die 39-jarige Neels Kleyhans in 2014 gebyt – toe sy dogtertjie, wat vandag ses is, reeds gebore was. Sy seuntjie, wat ‘n jaar gelede gebore is, was die eerste geboorte wat hy wel op film vasgevang het, maar sy fokus was toe meer op sy lewensmaat en sy ondersteunende rol as pa, en nie op sy fotografie nie. Dié foto’s het by die huis rondgelê, totdat ‘n kuiergas dit gesien het en hom gevra het hoekom hy nie meer geboortes afneem nie. En dis hoe dit alles begin het.

Neels het hom by die “International Birth Association” laat registreer en dis toe dat hy uitgevind het dat hy die eerste manlike fotograaf in Suid-Afrika is om geboortes af te neem.

Neels sê daar is streng reëls en regulasies wat in die teater geld. Sy grootste uitdaging is om nie die privaatheid van die ouers te skend nie. Hy sê hy wil ook nooit in die pad wees nie. “Om geboorte te skenk is ‘n baie persoonlike ervaring. Die ouerpaar gaan deur ‘n wye reeks emosies – van spanning tot groot vreugde en trots.” Hy sê wanneer ‘n baba sy of haar eerste skree gee, raak hy baie emosioneel, want dit beteken die kleintjie is gesond.

In sy ondervinding is ma’s ook gewoonlik baie gretig vir die afnemery, maar die pa’s is meer huiwerig. Maar na die eerste ontmoeting en ‘n deeglike verduideliking van hoe dit gaan werk, raak paartjies baie opgewonde.

Neels sê dis ‘n nuwe veld in fotografie, maar dit sit nie in elke man se broek om geboortes af te neem nie. Die lesse wat hy geleer het by ander geleenthede, soos troues en doop-seremonies, kom handig te pas in die teater. Hy sê sy eerste geboorte fotosessie was ‘n groot leer-kurwe – die foto’s het baie mooi uitgekom, maar dis onvoorspelbaar en hy moes homself gereeld herinner dat hy ‘n bystaander is tydens ‘n baie intieme oomblik. Volgens hom sou hy vroeër in sy fotografie loopbaan nie reg gewees het vir dié tipe fotografie nie.

Hy’t ‘n groot liefde vir kinders en diere – seker twee van die moeilikste onderwerpe om af te neem. Maar hy leef vir die oomblik. Al sy foto’s is in wit en swart. Neels sê dis sagter op die oog en hy wil nie mense skrikmaak met die kleur van bloed in sy foto’s nie.

Die publisiteit wat hy tans geniet is lekker, maar vir hom gaan dit oor die foto’s en om die heuglike oomblik van geboorte vir ewig vas te lê. Hy sê dis ‘n eer om gevra te word en dit maak hom trots.

Vir meer besonderhede oor Neels se geboorte fotografie – google gerus NK Photography.

 

Reinard

Reinard Ludick – Senior Verslaggewer en Anker, Smile 90.4FM Nuus

Comments