SGNN GoodNews

christine_bat

Die oggend toe ek begin sterre sien…

In 2003 het ek ‘n keer probeer om bloed te skenk. Nou vir iemand wat ‘n grootse vrees vir naalde, hospitale en dokters het, was dit nogal ‘n uitdaging. Ongelukkig nie ‘n uitdaging wat ek geslaag het nie. Halfpad deur was ek witter as ‘n ‘wet wipe’ en moes die suster maar opgee op my 500 ml bloed.

15 Jaar later en vir ‘n tweede keer besluit Bobby en Lindy dat dit ‘n goeie idee is om sommer by die Smile 90.4FM ateljee ‘n bloedskenking sessie te doen.

Die eerste een het ek half omseil en die aand van te vore ‘n aangeplakte kuggie ontwikkel wat my teen die oggend van die skenking oortuig het dat ek die groot griep het, dus, het ek die skenking vermy.

Maar toe die Ontbyt span ‘n tweede keer besluit om die Westelike Provinsie-Bloedoortappingsdiens te nooi vir ‘n skenking sessie, het ek besluit, om weer te probeer!

Presies ‘n jaar terug was my geliefde onder die mes vir ‘n groot operasie, en na erge komplikasies kan ek onthou hoe verbouereerd ek langs sy bed staan en wag en wag vir bloed vanaf die bloedbank in Claremont. Ek kan onthou hoe ek gedink het “wat as daar net mense soos ek is wat te bang is om te skenk, wat as die bloedbank leeg is” terwyl die verpleegsters James se bloeddruk elke paar minute neem wat al hoe laer en laer raak…soos die hart net nie meer bloed het om deur sy lyf te pomp nie.

Dit was verseker ‘n aansporing om tog ‘n tweede keer my arm en twee koppies bloed oor te gee aan ‘n WPB suster.

Verlede Vrydag daag en fris en vars by die werk op. Gereed vir die groot donasie! Papiere ingevul, yster getoets (en was ek trots op my 14,5% uit 16% as ‘n plant-vretertjie) en met ‘n gevoel van “ek gaan nou lewens red” stap ek oor na my bed.

Naald in, handdoekie oor sodat ek nie kan sien nie, en volgens die Smile luisteraar langs my vloei dinge mooi. 10 Minute later is my twee koppies plasma in ‘n sakkie. En ek swel van trots…vir ‘n minuut lank…en toe begin ek sterre sien.

Al wat ek kan uitkry toe die suster by my staan is…hier gaan ek nou hier gaan ek nou!!

Bloeddruk word geneem. Dit het laer as die rand teen die pond geval in ‘n kwessie van 10 minute. Ek sien sy skrik en met een beweging tilt sy my bed dat my bak bene en voete in die lig lê en my kop kort duskant die vloer hang. Wat ek gewoonlik in so situasie van krises doen is…ek krul op…maak my oë toe ek probeer asem haal. Maar nee, suster twee het nou by my bed aangesluit en sê “hou oop jou oë, hou oop jou oë”! Regtig? Kan ek nie maar net in ‘n diepe beswymig ingaan nie? Maak my wakker as dit verby is nie. Maar nee, verpleegster een is terug by my bed met ‘n koppie warm glukose konkoksie met ‘n strooitjie in, want onthou op die stadium hang ek soos ‘n vlermuis uit die dak, onderstebo. Ek wil nog sê “say no to straws” toe sy dit in my mond en sê sluk.

Die lae bloeddruk en vlae warmgloede wat oor my spoel begin perels op my neus en wange vorm, wat ek kan sien..want my oë moet mos oop. Die warm glukose wat onderstebo gedrink word bring ‘n ekstra aardige gevoel…’n half naargeid. Dis toe wat ek oorgee en net oë toe maak.

En so lê ek…vir ‘n uur…onderstebo.

Bewerig en bleek het die susters my gehelp opstaan vir ‘n marmite roosterbroodjie en ‘n koppie swart-soet tee.

Jou bydrae van twee koppies kan potensieel 3 lewens red.

Ek hou nie van die gesegde dat “geen goeie daad ongestraf bly nie”. Dis wel waar dat om werklik iets te gee, aan jou gaan vat.

Of dit nou jou middagete is wat jy weggee vir ‘n honger karwag, of die ongerief van ‘n uur lank baie goor voel nadat jy bloed geskenk het. Maar dis tog wat dit die moeite werd maak…om te weet jy het regtig nou iets van jouself gegee.

Sal ek dit weer probeer oor twee maande.

Third time lucky?

Ek sal graag weer wil probeer en as jy so bang is soos ek vir die dinge, kom lê maar langs my in vlêrmuis-posisie, dit is die moeite werd!

Christine

Christine Wessels – Senior Vervaardiger Smile 90.4 FM

Comments