SGNN GoodNews

Seb

Skoene Samaritaan maak harte bly!

Sebastian Haricombe is Manenberg se eie barmhartige Samaritaan. Die voormalige bende-lid en dwelmverslaafde het die harte van 160 kinders in agt skole in die omgewing onlangs baie bly gemaak nadat hy vir hulle splinternuwe skoene gegee het. Haricombe het ses jaar gelede met ‘n veldtog begin om skoene vir minder-bevoorregte kinders in te samel. Dit nadat hy self gesien het hoeveel kinders daagliks met ou skoene, tekkies of selfs kaalvoet skooltoe stap.

Haricombe weet van swaarkry en uitdagings op die Kaapse Vlakte. Hy was tien jaar oud toe hy by die Naughty Boys bende aangesluit het. Hy’s vier keer met ‘n mes gesteek, maar toe hy 18 geword het, het hy besluit om kerk toe te gaan en ‘n nuwe blaadjie om te slaan. Ses jaar gelede het hy sy dienste begin aanbied vir skole in Manenberg en omgewing. Hy’t met kinders gepraat oor bendes, dwelms en al die euwels wat hulle daagliks in die gesig staar. Hy sê een ding wat hom opgeval het, was dat die kinders nuwe skoene benodig.

Haricombe het besighede en inwoners genader vir skenkings en selfs by minibus taksi- en trein-pendelaars gaan aanklop om hulp. Vanjaar het hy dit reggekry om 20 kinders by agt skole met skoene te help. “By Silverstream Laerskool het ‘n meisie in trane uitgebars toe sy haar nuwe skoene die eerste keer aangetrek het.” Haricombe sê die vreugde op die kinders se gesigte is onbeskryflik. Hy sê die nuwe skoene gee ook aan die kinders self-vertroue en ‘n beter selfbeeld. Vandag is die kleintjies druk besig om dankie-briefies te skryf. Haricombe sê sy langtermynplan is om eendag skool-uniforms aan leerders te oorhandig. “Baie ouers kan nie skool-uniforms bekostig nie, weens die hoë werkloosheidsyfer in die gemeenskap.”

Sonder die hulp van verskeie baie vrygewige besighede en ook inwoners sou dit nie moontlik gewees het nie. Haricombe sê hy sal graag sy veldtog na Atlantis wil uitbrei waar die nood groot is. Daar’s nie tyd vir stilsit vir dié man met die groot hart nie. Hy’t reeds begin met sy volgende skoen-insamelingsveldtog en hy beplan om vir sy volgende oorhandiging nog meer minder-bevoorregte kinders te bereik en meer harte bly te maak. Indien jy dalk vir Haricombe oppad werktoe in die taksi of op die trein raakloop, maar jou beursie oop en help hom om sy doel te bereik. Nuwe skoene aan die voete van elke kind op die Kaapse Vlakte.

Reinard

Reinard Ludick – Senior Verslaggewer en Anker, Smile 90.4FM Nuus

Comments